ALS Selgroepe
Hoekom deel word van 'n selgroep?
“Om my eie selgroep te kon hê was vir 'n lang tyd 'n begeerte in my hart. Dankie vir jou leiding en die mooi manier waarop jy ons as selleiers deur die jaar bygestaan het.
Graag wil ek jou vertel van ons laaste selbyeenkoms wat ons in Desember 2010 gehad het. Dit was 'n groot behoefte by elkeen om op die gepaste manier vir mekaar totsiens te sê voor die skoolvakansie begin het. Ons tema vir die Donderdagaand (09/12/2010) was "die impak van liefde". Kerstyd is ‘n tyd van liefde, omgee en troos waar dit vandag so nodig is. Na ongeveer 40 minute se saamgesels rondom die Woord, het ons as groep 'n heerlike Kersete gehad. Almal het iets bygedra in die vorm van kos en drinkgoed.
In plaas van geskenke vir die kinders gee, het ons besluit dat die kinders elkeen verantwoordelik gaan wees om 'n skoenboks te vul met benodigdhede soos op die lys van die kerk ontvang. Elkeen moes dan ook sy/haar boks oortrek en versier en by die kerk inhandig. Hierdie kinders het elkeen 'n gevoel van waarde gehad, omdat hulle 'n slag kon gee en nie soos altyd, ontvang nie."
– Eugene Blume
Ons gemeente gaan ‘n ontploffing beleef wat groepsbetrokkenheid aanbetref. Ons droom van “Holistiese kleingroepe waar ‘n liefde vir
God en mens prakties uitgeleef word.”‘n Groep wat holisties funksioneer is gefokus op die ontwikkeling en groei van die totale mens, nie net ‘n aspek of deel daarvan nie.
Ons gaan spesifiek fokus op die volgende...
Dat lidmate in vertrouensverhouding met mekaar sal leef. (OMGEE)
Dat lidmate hulle gawes uitleef en mekaar bedien. (BEDIENING)
Dat die Woord relevant en prakties bespreek word. (INVLOED)
Dat nuwe mense gereeld en gemaklik ingeskakel word. (GROEI)
Ons het reeds aktiewe groepe waar lewens weekliks verander. Daar is ook mense wat aangedui het dat hulle belangstel om nuwe groepe te begin.
Indien jy belangstel om betrokke te raak by groepslewe waar OMGEE, BEDIENING, INVLOED en GROEI as hoë waardes beskou word, wil ek jou vriendelik uitnooi om my te kontak!
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Ek het oor jare se ondervinding met kleingroepe agtergekom dat dit ‘n baie effektiewe manier is om te groei en ontwikkel in jou verhouding met die Here. Dit berei jou ook voor vir toekomstige moeilike seisoene om omring te word met ‘n sterk ondersteuningsbasis.
“Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel... hulle het van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet”
Hand 2:44 & 46
Groete,
Paul Grobler





























