Herderlike Versorging
Voltydse Herders
Herderlike versorging word deur Herders gebied wat aangestel is oor verskillende ouderdomsgroepe.
Kontak u ouderdomsgroep se Herder, of kontak die kerkkantoor by: 011 867-7244
Die liefde vir God en mens is vir ons 'n prioriteit. Ons stel belang in elke dimensie van elke lidmaat se lewe en probeer daardeur 'n gebalanseerde gemeente te bou. Ons deel graag in mense se leed, blydskap en behoeftes.
Dit is die hooffunksie van ons herderlike sorg. Daar is voltydse Herders wat oor ouderdomsgroepe aangestel is. Kinderkerk; Tieners; Studente; Werkende Jeug; Jonggetroudes; regdeur tot ons Seniors.
Waarmee help ons?
Letterlik met enige kwessie wat jou pla, of terughou, of seermaak, of wat keer dat jy 'n goeie lewe kan geniet. Elke Herder hanteer sy ouderdomsgroep se beradings, as die berading dieper aandag verlang kan 'n afspraak gemaak word met ons span beraders.
Berading by ALS is 'n passie, en dis deel van ons visie.
Ons wil nie net hê mense moet kerk toe kom nie, ons wil ook help om mense heel te maak en toe te rus vir 'n 'oorvloed lewe' - dis ons roeping!
Gebed
Ons glo in die krag van gebed.
Ons herders besoek graag persone met behoefte en doen ook gebede vir hierdie persone. Ons het ook 'n gebedspan wat bid vir persone op ons gebedslys. Indien u 'n gebedsversoek het, kan u u herder of die kerkkantoor skakel met u versoek.
Gebedsbelewenis en gebedsgroei geniet prioriteit. Benewens die klem op persoonlike gebedstyd, is daar ook gebedsgroepe in die bedienings en word daar aan die einde van ons aanddienste oproepe gemaak vir lidmate wat gebed benodig.
Lidmate word ook die geleentheid gebied om op Vrydagoggende vanaf 05:00 tot 09:00 in die kerk te kom bid aan die hand van verskeie gebedsonderwerpe.
Besoeke
Ons poog om ten minste een keer per jaar aan huis van lidmate te besoek. Doelgerigte gesprekke vind plaas. Ons skakel ook met verjaarsdae en siekte. 'n Hoë prioriteit word geplaas op die besoek en bid vir siekes in hospitale en tuis, selfs nie-lidmate.Laat weet jou herder van siekte en hospitalisasie.
Begrafnisse
Begrafnisse vir lidmate geniet prioriteit. Dit word in 'n intieme en persoonlike atmosfeer aangebied. Met die afspraak word al die reëlings en vereistes bespreek. Persone word ook in die rouproses begelei deur herders en pastore.
Troues
Ons gemeente bied die volgende dienste aan vir paartjies wat in die eg wil tree:
• Troues vir gemeentelede en nie-lede.
• Verpligte huwelikskursus vir lede en nie-lede.
• Daar is 'n koste verbonde aan alle troues.
Kontak die kerkkantoor vir meer inligting.





























